Etrecia van der Merwe

Gereedskapstassie

My wens vir julle in 2023 is:

Voorspoed en veiligheid
Ondersteuning van kollegas, ouers en leerders
Ongelooflike en genoeg
Rooskleurige dae
Selfbeheersing en selfvertroue
Passie vir jou vak, asook werk, want sonder dit kan jy as onderwyser nie
Oorleef nie
Eenheid in jou Skepper want alleen Hy gee jou
Deursettingsvermoë om deur moeilike dae te kom!

Daar waar ‘n nuwe jaar aangebreek het op ‘n kalender maak ons altyd nuwe voornemens, stel nuwe doele en begin die nuwe skool jaar so vars soos n lentebloeisel wat oopbars na ‘n heerlike lentereën.
Onthou dat jy weereens nuwe granate aan jou boom gaan kry in hierdie jaar. Hierdie granate begin as bloeisels aan die begin van die jaar. Hulle het baie water en liefde nodig, maar ook son. Jy is die landbouer in hierdie granaatboomland. Jy gaan gedurende die jaar die nodige hoeveelheid water (kennis) moet gee sodat hierdie granate kan sterk word en aanhou groei.

Die aarde bewerk en omspit verg soms harde werk, want dis nie altyd maklik om elke leerder te ondersteun nie. Elkeen is groot gemaak in ‘n ander tuisomgewing, party granate het meer liefde, water en bewerking nodig as ander. Daar sal ook soms onkruid (ongewenste elemente of gedrag) voorkom by van die granate. Jy sal dit as landbouer moet verwyder sonder om te kwets of vertroue te skend. Later deur die jaar sal hulle wel almal sterk genoeg en ryp genoeg wees om te pluk sodat hulle die sap en pitte wat nodig is kan gebruik vir die finale eksamen in Desember.

Weet dan dat jy as onnielandbouer nie die pad alleen stap nie, maar dat jy alreeds ‘n gereedskapkassie het:

Die tassie self: Al die kennis wat jy deur ondervinding, kollegas en boeke deur die jare bymekaar gemaak het met die genade van God.

Geloof: In jouself, jou vermoë, maar die meeste – geloof in God.
‘n Spitvurkie: om al die onkruid wat deur die jaar mag opkom uit te trek (kollegas, vriende, familie) en positiewe strategieë.
‘n Gieter om elke granaat water te kan gee (liefde, sagmoedigheid, verdraagsaamheid, die Vrug van die Gees).
Sagte skoene om jou voete te skoei, want om in die “hart” (verstand) van n kind te werk moet n mens die “aarde” versigtig betree.
‘n Kers of lamp vol lampolie wat nooit opraak nie – vir die beurtkrag, maar ook die dae wat jy voel jou lig self is n bietjie flou.
‘n Merkpen wat se ink voorkom in jou gunsteling kleur wat ook nooit ophou skryf nie.

Met hierdie gereedskapkassie weet ek sal julle pad in 2023 nie noodwendig sonder slaggate wees nie, maar jy sal wel altyd genoeg hê en die regte instrument besit om die gat op te kan vul.

Mag jou tassie nooit “leeg” raak gedurende die jaar nie en mag Klankpret in die komende jaar altyd daarin slaag om te help vul aan die slaggate, die olie in die lamp volhou, die merkpen volhou, help met spitwerk en mag jou Geloof in jou Skepper nooit faal nie.

Klankpretgroete vol seënwense vir ‘n FANTASTIESE VREUGDEVOLLE 2023! Etrecia xox

Gereedskapstassie Read More »

Soft skills soos ‘n skoenlapper

Ek blaai vanoggend so deur my LinkedIn en lees iemand se kommentaar raak: “Ons eerste byeenkoms – dit was in die geval ‘n aanlynsamekoms – het nou nie gegaan soos ons beplan het nie, maar die kinders kon wel terugvoer gee van hulle ervarings en wat hulle geleer het die week.” Die gedagte ontstaan toe by my, hier waar ons nou in Suid-Afrika ook weer aan die begin lê van ‘n nuwe skooljaar, of ‘n nuwe kwartaal (indien jy in ‘n ander land as Suid-Afrika skoolgee), ons vergeet soms om te dink aan wat ervaar die kinders? Hoe ervaar hulle die pandemie daar waar hulle vir die afgelope 2 jaar veel minder sosiale ervarings en blootstelling gehad het as wat hulle normaalweg sou ervaar het.

Daar is ‘n spreekwoord wat sê ons leer deur te speel – hoeveel kon hierdie kinders werklik speel in die afgelope twee jaar tydens die pandemie? Fisies speel met items? Fisies saam met maats speel? Aanrakings ervaar en ander aanraak of selfs ‘n drukkie gee? As Covid dan ‘n virus is wat oorgedra kan word deurdat mens aan iets raak waarop dit “geland” het?

Ons as onderwysers kla dalk – die kinders is agter. Hulle is swakker. Maar swakker waarin en volgens wie? ‘n Onderwysstelsel? ‘n Onderwyser se oogpunt? Of moet ons dalk soms gaan stilstaan en kyk watter ander vaardighede het hulle dalk ontwikkel in hierdie tyd? “Soft skills” soos die Engelse sal sê. Vaardighede soos empatie vir ander wat dalk siek is, tydig en ontydig hande was, afstand respekteer, ondersteuning aan mekaar. Wat van aanlynvaardighede en moontlikhede wat vroeër dalk net ‘n gedagte of ‘n vae moontlikheid was?

Voel en sien my hart in hierdie stukkie teks in hierdie jaar waar jy voor ‘n nuwe klas staan, as gesoute onnie of “newbie”. Die kinders en jy het mekaar se ondersteuning nodig, emosioneel sowel as fisies. Onthou daar waar jy stap dat jy loop met vlindervoete – saggies, want jy trap ‘n pad in die kinders se harte oop as onnie. Jy’s die enigste een – behalwe sy of haar ouers wat die voorreg sal hê om dit te kan doen – en party ouers gee dit soms ook nie vir ‘n kind nie. So onthou hierdie jaar – trap met vlindervoete – in die kinders se harte, maar trap spore vol goud.

Waarom? Want jy het die voorreg om dit te doen. Behandel en werk deur jou kurrikulum – maar onthou dat die leerders ook nog pret mag hê terwyl hulle dit doen. Want die hoogte vorm van leer is spel, volgens Albert Einstein.

My wens vir julle vir 2022 is “SOFT SKILLS”: “

Simpatie

Omgee

Familie

Teenwoordigheid

Sagmoedigheid

Kindness

Integriteit

Liefde

Lankmoedigheid

Samehorigheid en Samewerking

want die wêreld – ons wêreld – jou mense in jou onmiddelike omgewing waarin jy elke dag beweeg en in aanraking kom – het meer mense nodig met SOFT SKILLS.

Soft skills soos ‘n skoenlapper Read More »

“Alles sal werk as jy dit vir ‘n paar minute uitprop – selfs jy” – Anne Lamott

Hierdie stelling bring die beeld van ‘n selfoon in my verbeelding – ‘n selfoon waar die battery al in die rooi staan. Ons almal kan nie gou genoeg na ‘n oplader gryp om ons selfone weer te herlaai nie – want dit het amper soos ons lewenslyn geraak. ‘n Verbintenis aan familie, vriende en ook sosiale media, e-posse ens. noem maar op.

In die lewe van ons as onnies is dit dieselfde beeld wat te voorskyn kom as metafoor – ons as onnies raak so besig met alles en nog wat – van assesseringtake wat moet in, lesplanne wat gedoen moet word vir die volgende kwartaal, huidige lesse hanteer en deurwerk wat nog vir die dag moet klaar – ek noem nie eers die van die week nie – want dis ‘n perd van ‘n ander kleur. Om hierdie rede vergeet ons soms om ons eie battery te herlaai, want die druk vir ons leerders om te presteer of om net deur die dag te kom vir party – is net té veel.  Daarom het hierdie stelling van Anne Lamott my net laat dink – alles sal werk as jy dit net vir ‘n paar minute uitprop – selfs jy.

Onnies het ook tyd nodig om te ontlaai, te ontspan, net daardie paar minuutjies asem skep voor die volgende klas opdaag, want pouse is beslis te kort daarvoor.  Hier volg ‘n paar wenke hoe jy as onnie net so 3 minuutjies jouself kan uitprop of die oplaaier indruk vir ‘n bietjie ekstra krag in daardie “skoolhoubattery”.

*Nadat die leerders verdaag het en jy wag op die volgende klas – dink aan 3-5 dinge waarvoor jy vandag dankbaar is. Skryf dit kortliks neer in jou dagboek. Iets neerskryf forseer mens om na te dink oor wat mens skryf – dit sal help dat hierdie dinge rerig insink. As die leerders opdaag is jou gedagtes bietjie meer positief of ‘n klein bietjie herlaai – om die periode te deurstaan. Sodra jy dan weer ‘n kansie het – lees hierdie 5 dinge deur en herdink dit. Herhaling is goed vir ons almal.

*Nog ‘n wenk: Drink ‘n paar slukkies water of jou gunsteling koeldrank wat jy sommer saam met jou kospakkie kan skooltoe vat. Dit gee jou kans om ‘n breek te vat en net rondom jou heen rond te kyk – hetsy jou klas, die speelgrond, die kinders.

*Maak jou klas mooi – ek besef sommige kinders waardeer dit nie – maar hulle kan geleer word om te doen. Maak dit so mooi – eerstens vir jouself – want ‘n mooi en opgewekte klas is ‘n uitnodiging om in in te stap. Die kinders sal dit ook waardeer – veral nog as hulle nie so iets gewoond is nie. Naderhand sal hulle uitsien om in jou klas te wees.

*Doen net jou bes en gee God die res! Soms word ons so oorlaai – dat ons van nature stres. Stres veroorsaak dat ‘n mens se battery sommer baie vinnig ontlaai en pap raak. Maak ‘n onthou lysie van wat jy vandag moet doen wat belangrik is en laat die res gaan. Die spreekwoordelike eendjas aantrek is soms belangrik, want met ‘n leë foon kan jy met niemand in kontak kom en so ook nie met ‘n “leë, gestresde onnie” nie.

*Maak seker jy kyk ten minste een of twee episodes van jou gunsteling sepie – net om ‘n klein bietjie die bedrading te herstel en die battery te herlaai – jy is dit aan jouself verskuldig!

So – prop jouself vir ‘n paar minute uit, skop daardie onnieskoene uit – drink jou gunsteling drankie, ‘n lekker warm koppie boeretroos, warm sjokolade (in hierdie komende winter) of self ‘n lekker pakkie cup-a-soup en herlaai daardie skoolhoubattery vir môre. Onthou – môre is onbekend – daarom noem ons dit ‘n misterie. Gister is verby – daarom noem ons dit geskiedenis. Maar jy het vandag in albei hande daarom noem ons dit ‘n present. Gebruik hierdie dag van vandag wat aan jou geskenk is as present.

Klankpretgroete

Etrecia

“Alles sal werk as jy dit vir ‘n paar minute uitprop – selfs jy” – Anne Lamott Read More »

LinkedIn
LinkedIn
Share
Instagram