Wie is ek?

Hi daar! Ek is Trish. Ek ondersteun graag kraakvars en meer gesoute onnies daar buite om hulle onderrig selfs nog beter te maak!

As jy nuut is hier – welkom by my webbladsy! My naam is Etrecia van der Merwe (Looij) en ek is ‘n onnie met ‘n passie vir alles in die onderwys! My onderwysloopbaan skop af in Suid-Afrika in 2009, waar ek verskillende grade en vakke onderrig het vanaf Graad 4 -6. Ek het my Honneurs in Opvoedkundige sielkunde in 2009 voltooi. In 2013 begin ek met my Meestersgraad in Leerderondersteuning en voltooi dit suksesvol in 2018. Hierin ontdek ek my onderwysliefde – woordeskat en die aanleer daarvan. Ek ondersoek verskeie strategieë om woordeskat vir leerders op ‘n prettige manier aan te leer.

Ek kry die geleentheid om in Abu Dhabi te gaan skoolhou in 2015 en gryp dit met albei hande aan. Hier leer ek kreatiewe maniere aan om leer te fasiliteer en nog lekkerder te maak deur die gebruik van differensie, werkstasies, 21-eeuse vaardighede asook STREAM. Ek voltooi ‘n kursus in leesterapie en word ‘n leesterapeut na 6 maande internskap in die Phoni-Graphix metode. In 2020 verhuis ek na Nederland omrede my man Nederlandse burgerskap het.

In 2020 tref Corona die wêreld en vanwege die afstand om te reis na ‘n internasionale skool in Den Haag of Amsterdam (ongeveer ‘n uur en ‘n half se reis) doen ek nie aansoek vir poste nie, maar besluit om my paddaskool te begin en Klankpret ontstaan.

Die doel van my webwerf is om onderwysers se werk te vergemaklik – beplanning word verskaf, klastemas, maar veral werkstukke om klankleer en lees te ondersteun. Lees is ‘n fees, my moedertaal is Afrikaans en mens braai in Afrikaans! Om hierdie rede is die fokus meesal op Afrikaans, maar ek het dieselfde werkstukke in Engels ook beskikbaar, want ek glo dat alle leerders die reg het tot goeie kwaliteit onderrig en daarom wil ek die onderwyers bemagtig in Suid-Afrika (asook Namibië) en hulle toegang gee tot bekostigbare kwaliteitprodukte. Ek het ook 11 jaar ondervinding in die aanleer van Engels en Afrikaans as Tweedetaal en wil die ervaring ook met medeonnies deel in my EAT / FAL produkte en leespakkette. Onderwysmotivering lê my ook na aan die hart – want geen onderwyser kan voetspore in ‘n kinderhart trap, sonder die regte skoene (motivering) nie.

Gepubliseer op 18 Mar 2020 deur Etrecia van der Merwe Looij
LinkedIn
LinkedIn
Share
Instagram