Soft skills soos ‘n skoenlapper

Ek blaai vanoggend so deur my LinkedIn en lees iemand se kommentaar raak: “Ons eerste byeenkoms – dit was in die geval ‘n aanlynsamekoms – het nou nie gegaan soos ons beplan het nie, maar die kinders kon wel terugvoer gee van hulle ervarings en wat hulle geleer het die week.” Die gedagte ontstaan toe by my, hier waar ons nou in Suid-Afrika ook weer aan die begin lê van ‘n nuwe skooljaar, of ‘n nuwe kwartaal (indien jy in ‘n ander land as Suid-Afrika skoolgee), ons vergeet soms om te dink aan wat ervaar die kinders? Hoe ervaar hulle die pandemie daar waar hulle vir die afgelope 2 jaar veel minder sosiale ervarings en blootstelling gehad het as wat hulle normaalweg sou ervaar het.

Daar is ‘n spreekwoord wat sê ons leer deur te speel – hoeveel kon hierdie kinders werklik speel in die afgelope twee jaar tydens die pandemie? Fisies speel met items? Fisies saam met maats speel? Aanrakings ervaar en ander aanraak of selfs ‘n drukkie gee? As Covid dan ‘n virus is wat oorgedra kan word deurdat mens aan iets raak waarop dit “geland” het?

Ons as onderwysers kla dalk – die kinders is agter. Hulle is swakker. Maar swakker waarin en volgens wie? ‘n Onderwysstelsel? ‘n Onderwyser se oogpunt? Of moet ons dalk soms gaan stilstaan en kyk watter ander vaardighede het hulle dalk ontwikkel in hierdie tyd? “Soft skills” soos die Engelse sal sê. Vaardighede soos empatie vir ander wat dalk siek is, tydig en ontydig hande was, afstand respekteer, ondersteuning aan mekaar. Wat van aanlynvaardighede en moontlikhede wat vroeër dalk net ‘n gedagte of ‘n vae moontlikheid was?

Voel en sien my hart in hierdie stukkie teks in hierdie jaar waar jy voor ‘n nuwe klas staan, as gesoute onnie of “newbie”. Die kinders en jy het mekaar se ondersteuning nodig, emosioneel sowel as fisies. Onthou daar waar jy stap dat jy loop met vlindervoete – saggies, want jy trap ‘n pad in die kinders se harte oop as onnie. Jy’s die enigste een – behalwe sy of haar ouers wat die voorreg sal hê om dit te kan doen – en party ouers gee dit soms ook nie vir ‘n kind nie. So onthou hierdie jaar – trap met vlindervoete – in die kinders se harte, maar trap spore vol goud.

Waarom? Want jy het die voorreg om dit te doen. Behandel en werk deur jou kurrikulum – maar onthou dat die leerders ook nog pret mag hê terwyl hulle dit doen. Want die hoogte vorm van leer is spel, volgens Albert Einstein.

My wens vir julle vir 2022 is “SOFT SKILLS”: “

Simpatie

Omgee

Familie

Teenwoordigheid

Sagmoedigheid

Kindness

Integriteit

Liefde

Lankmoedigheid

Samehorigheid en Samewerking

want die wêreld – ons wêreld – jou mense in jou onmiddelike omgewing waarin jy elke dag beweeg en in aanraking kom – het meer mense nodig met SOFT SKILLS.

Leave a Comment

LinkedIn
LinkedIn
Share
Instagram